Wat beteken die boodskap van die kruis vir my lewe elke dag (Deel 4 van hierdie kort reeks)

 

Wil jy nie asseblief weer my artikel op die Net getiteld, gaan lees nie?
Hier is die skakel daarheen:

https://nuwewyn.co.za/index.php/component/k2/item/194-die-week-wat-die-geskiedenis-verander-het-die-nuutste-weergawe

Nou kan jy verder lees.

Gal 2:19b-20
“… ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Hierdie teksgedeelte vertel wat in ons lewe plaasgevind het op daardie dag wat ons die eerste keer tot bekering gekom en Jesus as Verlosser en Here in ons lewe aangeneem het.

My bekeringsdatum was 10 Oktober 1969. Wat is joune?

As jy nie werklik ʼn dag en datum het nie, wil ek voorstel dat jy vir jou een kies! Kies vir jou daardie dag en datum wat jy vir die eerste keer kan onthou hoe jy die boodskap van die Evangelie gesnap en dit begin glo het, naamlik dat Jesus aan die kruis vir jou en jou sondes gesterf het.

Maak daardie dag en datum jou pen in die grond. Soos in die verhaal wat vertel word van daardie ou man in een van hierdie afgeleë gebiede vir ʼn week by ʼn reeks Evangelisasiedienste was. Elke aand wat daar ʼn geleentheid was om Jesus aan te neem as Verlosser en Here, het hy na vore gekom en dit weer gedoen.

Toe hy die vierde aand weer na vore kom, roep die Evangelis hom na die tyd en vra vir hom waarom hy, nou vir die vierde keer, weer Jesus in die openbaar kom aanneem het. Die ou man verduidelik toe hoe hy elke keer, die volgende dag, maar weer begin twyfel het aan sy kindskap.

Dit is toe dat die Evangelis ʼn tentpen en ʼn hamer vir hom gee en vir hom aansê om dit buite die tent in die grond te gaan kap sodat net ʼn stukkie van die pen bly uitsteek. En as hy ooit weer begin twyfel aan sy kindskap en redding, kan hy na daardie pen in die grond kom kyk en daar vir homself sê: So seker as wat ek hierdie pen in die grond sien staan, so seker kan ek wees, sê die God wat nie kan lieg nie, vir my in die Woord, daar in Johannes 1:12:

“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

Nou kom die Here en sê vir my en jou wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Here: Al het jy dit nie mooi al daardie eerste dag met jou bekering verstaan nie, toe reeds het God reeds gesien hoe jy, die ou jy, saam met Christus gekruisig is. Ja, kom ons sê maar jy het daar aan die agterkant van die kruis, in God se oë, gehang en daar is jy saam met Christus gekruisig.

Ek weet nie of jy weet nie, maar daar is net een rede waarom ʼn mens gekruisig is word is dit is om jou dood te maak!

Wat hier in Gal. 2:19b en 20 in werklikheid staan, is dat jy, jou ou jy, in geloof moet aanvaar dat dit vir jou en almal rondom jou, beter is dat die ou jy maar net weer kies om te glo wat God oor jou sê as Sy volgeling: Jy moet in geloof weer kies dat die ou jy dood is, en weer ʼn keer die beheer in jou lewe oorgee aan Christus deur Sy Gees.

Daarom moes die ou jy daardie dag wat jy tot bekering gekom het, ook begrawe word, anders het jy die hele tyd gestink, soos ʼn lyk immers doen!

Dit is waarom nuwe bekeerlinge, daardie eerste dag wat hulle tot bekering gekom het, deur die vroeg-Christelike gemeentes gedoop is in water om so hulle begrafnis te simboliseer. (Gaan lees maar net weer Hand. 2:36-39 en Rom. 6 in die verband).

Goddank, die dag toe hulle jou so gedoop het in water, het hulle jou nie onder die water gelos nie, want God self sê immers dat die nuwe jy, na jou bekering, ook saam met Christus opgestaan het uit die dood! Sodat jy, as ʼn nuwe mens, nou saam met Christus, in Christus, met Christus in jou, kan lewe in diens van Christus en Sy Koninkryk wat moet kom!

Kou ʼn bietjie hieraan! Kou ʼn bietjie daaraan dat God sê dat dit beter is vir jou, jou eggenoot in die huwelik, jou kinders, al jou geliefdes, en vir al jou vriende en almal wat jou ken, dat jy, die ou jy, met al jou dinge, met al jou slim planne en idees, al jou voorkeure en afkeure, ja, dat jy daardie ou jy, so gou moontlik, in geloof, as dood reken!

Eers dan, en alleenlik dan, kan die Opgestane Christus Jesus, wat self in jou as bekeerde en gelowige volgeling van Jesus woon deur Sy Gees, deur die Heilige Gees, die beheer oorneem (soos Gal. 5:16 e.v. dit beskryf), en eers dan kan dit wat hier in Gal. 2:20 staan, ook in praktyk, waar word in jou lewe.

Eers dan is dit nie meer die ou jy wat lewe nie, maar Christus wat in jou lewe.

Die lewe wat jy nou nog hier op aarde lewe, leef jy nou in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir jou bewys het deur sy lewe vir jou af te lê.

 

 

WIENS BROOD MENS EET, DIENS WOORD MENS SPREEK!

Dit was die rede waarom die Here my in 1993 opdrag gegee het om te bedank as leraar van die NG Kerk, en dit is die uitdaging waarvoor elke leraar en belydende lidmaat van die FAMILIE VAN GEREFORMEERDE GEMEENTES (FGG, of voorheen die KAIROS NETWERK) staan wat moet besluit of hulle finaal gaan uitstap uit die NG Kerk.

Ek lees juis vanoggend Josua 24 waar Josua se laaste woorde aan die volk van Israel was: Ek en my huis het gekies om net God te gehoorsaam! Maar wat van julle? Wie gaan julle dien? Wie gaan julle gehoorsaam?

Ek het beleef dat die leierskap van die FGG tans huiwer om 'n besluit in die verband te neem, en nog oortuig is hulle kan die NG Kerk "van binne-af" reformeer!

Daarom het ek 'n uitnodiging aan die leierskap gerig om my en ander toe te laat om hulle te help om landswyd elke gelowige geleentheid te gee om net met die Bybel op hulle skoot, by God self te hoor wat Hy sê wat werklik die waarheid is en wat leuens is!

Hier is die skakel na die video-opname wat ek vir hulle gestuur het in die verband.

https://youtu.be/X2vXzFy4wjA