Dit is reeds hier, maar nog nie ten volle nie

 

In die hemel is daar nie meer plek vir trane, siekte, pyn en die dood nie.
Daarom het Jesus as deel van Sy bediening hier op aarde, oral iets van die goeie nuus dat die Koninkryk van die hemel ook nou hier op die aarde gekom het, geïllustreer. Daarom het Hy siekes gesond gemaak, mense se trane afgevee, pyn verlig en selfs dooies opgewek.

Daarom het Jesus ook Sy vriend, Lasarus opgewek uit die dood.

ʼn Paar jare later is Lasarus dood en het sy fisies-chemiese liggaam nie weer opgestaan in hierdie lewe hier op aarde nie. Nou was hy weer saam met soveel ander gelowiges wat dood was, reeds voor die troon van God in die hemel.

Daar is dus ʼn dimensie van die Koninkryk van die hemel wat reeds ʼn effek en skadu’s gooi in die hier en nou hier op aarde. Tog weet ons, daar wag nog baie meer vorentoe! Ja, die Koninkryk van God in Sy volheid wag êrens vorentoe, in die toekoms.

Hierdie spanning van wat ons in die hier en nou die Here voor kan vertrou, en wat vorentoe op ons wag en dus nog nie, nie nou al, hier gaan waar word nie, is nie altyd ʼn maklike ding om mee saam te leef en mee vrede te maak nie.

Die gevaar en tragedie is dat juis dit vir baie mense ʼn wegkruipplek en ʼn verskoning word waarom hulle nie wil of kan glo wat God vir ons in Sy Woord belowe nie.

Hierdie spanning tussen wat nou hier moontlik is en wat nog nie nou gaan plaasvind nie, maak dat baie mense dink en glo dat iets nie gebeur het nie omdat dit net nie God se wil vir nou was nie!

Daarom hoor ons mense sê: Wel, God is groot en magtig genoeg om enigiets te doen of enigiets te laat gebeur, maar die feit dat dit nie gebeur het nie, bewys dat dit nie God se wil was nie.

Natuurlik is daar ʼn stuk waarheid in so ʼn redenasie, want ons weet immers dat die God wat ons aanbid God is wat soewerein doen wat Hy wil.

Wat so ʼn redenasie egter nie raakvat nie, is dat hierdie God gekies het om my en jou binne hierdie soewereine wil van Hom, binne die onmoontlike wat Hy kan en wil doen, ʼn baie doelbewuste plek gegee het.

Die God van die Bybel, het gekies om van aardse mense Sy eie familie, Sy kinders, te maak. Hy het ons geskape, toegerus, en aangestel om saam met Hom en dit waarmee Hy hier op aarde mee besig is, besig te raak. Hy nooi dus gewone aardse mense, om saam met Hom, as Sy medewerkers, in Sy besigheid hier op aarde betrokke te raak.

1 Kor. 3:9, byvoorbeeld, sê die volgende:

“Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.”

Ja, sê God in Sy Woord, ons is Sy medewerkers, Sy ambassadeurs, Sy arms, bene, Sy tong, want dit wat Hy in Sy hart het, wil Hy hier op aarde deur ons laat begin gebeur.

Daarom gryp die prentjie wat die boek, Openbaring, my elke keer aan. Ja, daar sien ons hierdie miljoene engele en ander hemelwesens reeds rondom God se troon staan, maar hier op aarde is dit gewone fisies-chemies geskape wesens vir wie God ʼn plek en ʼn rol gegee het wat selfs die engele nie kan speel nie.