Op die aarde het ek en jy ʼn rol wat engele nie eers kan speel nie

 

God se aardse seuns en dogters het ʼn plek en ʼn rol wat geen ander geskape wese kan hê nie.

Hoekom nie?

Omdat geen ander geskape wese toegang het tot die hart van die Vader soos wat die mens het nie. Ons is immers geskape na Sy beeld en bedoel om ʼn intieme liefdesverhouding met Hom as God en Vader te hê.

Reeds daar in Johannes, in Johannes 14, het Jesus vir ons belowe dat Hy met Sy dood en opstanding, en ja, met die koms en inwoning van Sy Gees in elkeen van Sy kinders se lewe, vir ons ʼn plek gaan voorberei wat Hy as die Seun tot dusver alleen gehad het. Ja, en daardie plek is ʼn plek teen en in Sy Vader se hart!

Deur wat Jesus as God se Enigste Seun vir my en jou gedoen het, en wat nou deur die inwoning van Sy Gees in die lewens van Sy seuns en dogters moontlik geword het, het ons toegang tot hierdie intieme liefdesverhouding met die Lewende God!

Dit is hoog tyd dat ons opstaan en hierdie voorreg en verantwoordelikheid opneem as die Koning se medewerkers, Sy ambassadeurs, hier op aarde. Ja, dat ons gehoorsaam begin proklameer en getuig oor dit wat ons weet in die hart van die Vader is.

Daar waar ek en jy optree in die Naam van Jesus, waar ons begin doen en sê wat die Koning ons aangesê het, gebeur iets van God se Koninkryk en Koning-wees in die hier en nou. Natuurlik nog nie volledig en volkome nie, maar ons begin beslis reeds hier iets hiervan soos sprankies hemel oral deurbreek hier op aarde!

Natuurlik gaan daar tye wees wat God soewerein anders besluit en dinge anders laat gebeur as wat ons gedink het of selfs voor gebid het. Maar nooit mag dit as’t ware die mat word waaronder ons al ons onbeantwoorde gebede kan invee nie, net omdat ons bloot aanvaar het dat dit nie die wil van God was dat dit nie gebeur nie, of dat God in hierdie geval eenvoudig nee vir altyd gesê het nie.

Kan jy glo, ten spyte van wat God op alreeds op soveel plekke oor en oor reeds wonderbaarlik gedoen het, is daar nog steeds diegene onder ons is wat gekies het om te glo dat God nie meer vandag bonatuurlik mense genees nie of dat wonders nie meer vandag gebeur nie!

Is jy of van jou geliefdes dalk een van hulle?

Ek het gekies in geloof om nie een van hulle te wees nie. Ek het die God van die Bybel en Koning Jesus leer ken in my en ander se lewens wat merkwaardig wonderlike, menslik onmoontlike, dinge kan doen en laat gebeur!

Ja, natuurlik is daar tye wat ek nie alles kan verduidelik wat gebeur of nie gebeur het nie. Maar ek het ook vrede hiermee gemaak. Solank as wat God God is, gaan daar altyd hierdie element van misterie en nie-weet en nie-alles-verstaan-nie in my en ander se lewens hier op aarde wees.

Ja, ek het besluit dat hierdie element van misterie net so belangrik is as dit wat God wel aan my geopenbaar en gesê en gewys het!

Ja, ek het geleer dat as ek nie plek maak vir hierdie element van misterie in my lewe nie, maak ek nie plek en ruimte vir daardie geleenthede waarin ek verder kan groei in my vertroue en geloof in wat God kan en wil doen hier op aarde, as Koning en Here, ook hier op aarde nie.

En ek het nodig om te leer om ten spyte van wat rondom my gebeur, ek steeds sal bly glo en steeds geduldig bly wag op die Here.

Weet jy wat ek ontdek het? Ek het ontdek dat ek situasies in my lewe nodig het waar ek moet leer om God en wat Hy vir my in Sy Woord sê, steeds te bly vertrou, al gebeur daar soms nie presies wat ek verwag het gaan gebeur nie!

Ek het geleer om plek te maak in my lewe vir God om altyd God te wees in my lewe. Ja, Hy is immers My Vader, wat alles ten goede laat gebeur vir diegene wat Hy liefhet.

Dit is immers ook wat Rom.8:28 ons belowe: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”