Die Finalé in Jesus se lewe op aarde!

 

Vandag wil ek jou laat fokus op daardie laaste tonele, wat ons seker met reg die Finalé in Jesus se lewe op aarde kan noem!

Hierdie laaste, finale tonele breek aan met Sy kruisiging, Sy begrafnis en dan, as die Grand Finale, met Sy Opstanding uit die dood na drie dae!

Midde al hierdie gebeure, speel daar in die Allerheiligste van die Tempel die ondenkbare af!

Gaan lees ’n bietjie hieroor daar in Mat. 27:51 en verder.

Kan jy glo, die Gordyn in die Tempel, tussen die Heilige en die Allerheiligste, word van bo tot onder geskeur, want God self het dit uit die hemel geskeur!

Wat ’n Finalé!

Op hierdie wyse sê God self kliphard dat die hele destydse wêreld dit kan hoor: Die finale skakel in die ketting is gebreek! Daar is geen nut meer vir ’n tempel nie! Van nou af kan ek en jy direk na God en Sy troon gaan en met Hom praat!

O, hoe relevant is hierdie boodskap nie ook in ons tyd nie!

Daarom kan ons nooit tevrede wees as mense net na allerlei kerkgeboue toe stroom om God se stem daar te hoor nie!

Daarom kan ons ook nie tevrede wees as net die Christelike godsdiens of Christelike waardes aan mense om ons gegee word om so hulle bloot godsdienstige mense te probeer maak nie!

Nee, hierdie finale gebeure vertel vir ons dat die pad na die Lewende God, Skepper van hemel en aarde, ja, na Hom as ‘n Vader in die hemel, nou vir elke mens oop is! En Jesus Christus en die boodskap oor Sy lewe, dood en opstanding uit die dood, is die deur na hierdie God en ’n intieme liefdesverhouding met Hom toe!

Daarom moet ons nou eerder aan mense die Goeie Nuus van God se Koninkryk vertel! Ja, van die Koninkryk van die hemel wat ook hier op aarde gekom het in Jesus Christus!

En as hulle dit aanvaar en glo, kan ons hulle terug na die markplek toe stuur om in die Naam van hierdie Koning te gaan besigheid doen.

Daarom moet ons ook hierdie nuwe bekeerlinge alles leer wat ons by Jesus geleer het. Om ook so die kultuur rondom ons in die besigheidswêreld te verander!

Dit is immers wat Jesus ons beveel het om te doen: Gaan maak mense My dissipels en leer hulle alles wat Ek julle geleer en gewys het.

Dit beteken dan ook dat ons hulle moet leer hoe om ander weer dissipels te maak, en hoe om hulle te leer om ook weer van ander dissipels te maak.

Onthou dat Jesus ons belowe het dat Hy heeltyd by ons is. Om ons elkeen te gebruik om te doen wat Hy gedoen het.

So het Jesus vir ons ’n strategie gewys hoe om die Babiloniese sisteem wat ons rondom ons sien, aan te vat en om dit te vervang met ’n ander kultuur, die kultuur van die Koninkryk van die hemel.

Dit sal ook beteken dat ons die derduisende oppad, wat honger en dors is, kos sal gee.

Maar nee, dit beteken nie om ’n boodskap van voorspoed aan almal voor die voet te verkondig nie!

Nee, verkondig eerder die boodskap van die Koninkryk, van God se genade wat genoeg is en van ’n God wat vrygewig is in Sy gee!

Vertel hulle van ’n God wat wil seën en gee sodat ons genoeg kan hê om ook mildelik vir ander te gee waar daar nood is.

Dit is die soort boodskap en goeie nuus wat nou nodig is op aarde.

Want ook vandag moet mense die Goeie Nuus hoor oor ’n Koninkryk van die hemel wat besig is om hier op aarde deur te breek!

O, hoe smag die wêreld nie al vir honderde en honderde jare na hierdie boodskap nie!