Maak die mense My dissipels (Deel 1)

 

In hierdie en die volgende aflewerings gaan ek jou leer hoe om die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, te gebruik om mense dissipels van Jesus te maak.

Die afgelope 23 jaar, week na week, het ek deur hierdie nuusbriefie, NOG ’N SLUKKIE NUWE WYN, die waarheid van God se Woord aan derduisende in meer as 1150 aflewerings oopgebreek! Maar dit wat ek in die volgende paar aflewerings aan jou gaan bedien, gaan jou in staat stel om self die Hemel vir een of twee of drie mense oop te sluit!

Ek wil begin deur jou te herinner aan daardie eerste dag in jou lewe wat jy die Stem van die Lewende God gehoor praat het met jou! Onthou jy nog daardie dag?

Ek het nou die dag beleef hoe die Here my herinner het aan 5 sulke dae in my lewe wat ALLES in my lewe verander het! Dit wat ek daardie 5 dae uit die mond van God self gehoor het, het ALLES IN MY LEWE VERANDER! En dit het gemaak dat ek vandag is waar ek is en besig is waarmee ek besig is!

Maar dit is ook die dinge wat maak dat ek vandag gereed is as ek vandag moet sterf!

Ja, dit is ook die dinge wat maak dat ek met tevredenheid kan terugkyk oor my lewe van sowat 70 jaar en kan sê: Ja, dit was nie alles volmaak en perfek nie, maar dit was goed genoeg! Dit maak dat my lewe tot hier werklik die moeite werd was!

In die volgende aflewerings wil ek jou help om vir ten minste een ander mens die hemel oop te sluit en om daardie mens te help om self, met net die Bybel op hulle skoot, die stem van die enigste ware God te hoor praat met hulle!

Ja, ek weet dat daar van julle is wat al iemand anders na Jesus toe gelei het. Maar kan ek jou vra: Het jy daardie mens ’n dissipel van Jesus gemaak?
Dink net ’n bietjie hieroor na.

Om iemand anders ’n dissipel van Jesus te maak, beteken immers om aan iemand die Evangelieboodskap oor Jesus te vertel op so ’n wyse dat hulle werklik beleef dat God self met hulle praat en dat hulle ’n persoonlike ontmoeting met hierdie God van die Bybel self het.

Daarom moet hulle ontdek dat hulle verlore sondaars is wat op pad is hel toe.


Daarom het hulle nodig om die Goeie Nuus te hoor oor God wat hulle so liefgehad het dat Hy Sy Enigste Seun, Jesus Christus, gestuur het aarde toe om in hulle plek, vir hulle sonde, Sy lewe te gee, sodat hulle, as hulle kies om dit te glo, die Ewige Lewe kan hê en nie verlore sal gaan nie.

Daarom moet daardie geestelike nuutgebore babas, op dieselfde dag van hulle bekering, gedoop word met water, en gedoop word met die Gees.

En dan moet hulle aan die hand geneem word en geleer word wat Jesus ons alles geleer het.

Sodat God hulle ook kan gebruik om weer op hulle beurt, ander mense dissipels van Jesus te maak. Wat weer, op hulle beurt, van ander dissipels kan maak.

Dit is waarom die Here my 5 jaar gelede opdrag gegee het om hierdie Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, vir jou te bou en vir jou VERNIET beskikbaar te stel.