As ek aan God se genade dink, dink ek aan hierdie oorvol, reuse stoorkamers vol moontlikhede en “on-moontlikhede”, asook aan ʼn hele klomp oop deure! Alles is daar wat ons nodig het en wat ons mag nodig kry.
Dit is waarvan die Here praat in Sy wonderlike beloftes aan ons wat die meeste van ons uit ons kop ken. Ek weet nie watter verse is dit vir jou nie.
Dink ʼn oomblik daaroor na en gaan lees ʼn paar van hierdie verse vir jouself hardop, sodat jou kop, jou hart en jou gees dit weer ʼn slag hard en duidelik kan hoor.
Kies dan net weer om dit te glo.
Vir my en my vrou, Hetta, is dit verse soos 2 Kor. 9:8 wat ons vir jare op ons slaapkamerkasdeur geplak het om ons te help om dit elke dag te onthou.
Onthou jy wat daar staan? Kom ek haal dit vir jou aan.
“En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”
Ek het weer hierdie vers in die oorspronklike Grieks gaan lees en is net aangegryp deur wat hier presies staan.
Kom ek vertaal direk uit die Grieks, woord vir woord, wat hier presies staan:
En God… Hy is magtig… om alle (of elke vorm van…) genade… in oorvloed daar vir julle te laat wees… sodat julle… altyd… van alles… genoeg kan hê… terwyl julle het… oorvloed… vir elke goeie werk.
Dink ʼn bietjie hieroor na.
Rol dit in jou mond, en jou hart, en in jou kop en gees rond. Suig dit stadig in tot daar diep binne-in jou… Tot jy dit werklik glo! Tot jy dit kan proe!
Ek is die afgelope tyd besig om na te dink oor wat geloof werklik is.
Ja, ek ken Hebreërs 11 se definisie.
Dan hoor en sien ek Jesus optree in geloof. Hoe Hy ʼn storm met stormwinde in enkele oomblikke tot bedaring kan bring. En hoe Hy 6 waterkanne met so tussen 6 tot 10 liter water elkeen in, in oomblikke in die beste verouderde wyn kan laat verander.
My wynmakervriende het vir my al in wetenskaplike formules probeer verduidelik hoeveel energie daar nodig was vir dit om te gebeur!
Dan is daar al die blinde oë wat Hy skielik laat sien het. En dowe ore wat begin hoor… Ja, selfs dooie liggame wat weer begin lewe!
Ek hoor hoe Jesus daar in Matteus 17:20 en 21 sê dat die sleutel wat hierdie store in die hemel kan oopsluit, is geloof.
Hoor wat daar staan!
“Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
Geloof in God se genade laat merkwaardige dinge gebeur!
Geloof dat Jesus Christus werklik Koning en Here hier op aarde en op hierdie oomblik in jou lewe is, met alles wat aan die gang in en rondom jou is, kan die deure oopmaak sodat merkwaardige dinge jou lewe kan begin instroom!
Glo jy dit?
Waag om dit te begin glo en kyk wat gebeur!