Daar is ʼn rede waarom ons as Christen-gelowiges jaar na jaar êrens vroeg in April moet stil staan en herinner moet word aan presies wat daar rondom die kruisiging van Jesus, die drie dae in die graf en dan die opstanding die Sondagoggend vroeg werklik gebeur het.
Ten minste gaan ons besef dat dit God ʼn ontsettende prys gekos het om my en jou genadig te kan wees.
Besef jy hoe lief moes God ons hê, van voor die grondlegging van die wêreld af, al was ons die enigste mense op aarde, dat Hy, soos Johannes 3:16 sê: … “Dat Hy sy enigste, unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
God die Seun, self God, moes ʼn mens word, hier op aarde gebore word en leef, ly en gekruisig word, sodat God as die Heilige God, ons genadig kan wees.
Vir God om ons te kan vergewe en vry te spreek... het Sy alles gekos!
Reeds in die Ou Testament het God vir Sy mense dit duidelik laat verstaan dat sonder bloed, sonder die dood vir ʼn plaasvervangende offerdier, die perfekte lam, was dit vir Hom as ʼn Heilige God nie moontlik om sonde te vergewe en die straf vir daardie sonde weg te laat val en te laat verdwyn nie!
Al het ek en jy net een sonde gedoen ons hele lewe, moes God ons straf met die dood en moes ons hel toe gaan! Sy heiligheid en Sy regverdigheid het dit wetlik van Hom vereis!
Die goeie nuus, die Evangelieboodskap oor Jesus, Sy koms, Sy lewe, Sy lyding, Sy kruisiging, die drie dae in die graf en Sy opstanding uit die dood, is oor hoe God as ʼn Heilige God dit vir Homself eens en vir altyd moontlik gemaak het om ons sonde, rebellie, opstandigheid, ongehoorsaamheid, onheiligheid te kan vergewe en ons daarvan vry te spreek…
Daarom het ek en jy nodig om ten minste eenmaal per jaar, te gaan stil staan voor hierdie gebeure wat ons oordink êrens aan die begin van April elke jaar.
Ons liggaam, ons siel en ons gees het nodig om herinner te word aan wat gedurende daardie week in April 30 na Christus, gebeur het, toe Jesus daardie Woensdagoggend, 09H00, daar op Golgota uiteindelik gekruisig is.
Ja, hoe Hy daar in die ergste van erge pyn gehang het aan die spykers deur Sy hande, en elke nou en dan die pyn probeer verlig het deur Homself op te lig deur te probeer staan op Sy voete wat deurboor was met ysterspykers!
Vir ses ure het Hy daar gehang… gely… tot Hy van pyn gesterf het drieuur daardie middag!
God, die Seun, het dit vir ons en ons sondes gedoen!
Ja, so lief het God ons gehad om ons genadig te kan wees!
Miskien moet jy weer ʼn slag ʼn fliek soos THE PASSION gaan kyk om net weer te proe hoe duur God se genade werklik was!