Markus 16:4 se woorde “… toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip (voor die graf van Jesus) klaar weggerol is”, hou vir my geweldige troos in. Veral vir daardie tye in my lewe wat ek weet dat al my menslike bronne uitgeput is, maar dat my God wat ek dien en vertrou in my lewe, lankal reeds vooraf ook hiervoor ʼn plan gemaak het.
Terwyl ons besig is om weer die gebeure daardie week in April 30 nC te oordink, wil ek jou vra: Besef jy wat dit alles beteken dat daardie klip voor die graf juis daardie dag weggerol was toe die vroue daar aankom?
Ja, toe hulle uit die mond van daardie jongman wat aan die regterkant van die klip gesit het, met daardie blink wit klere aan, soos van die ander Evangelies vir ons daar in Matt. 28:1-8; Lukas 24:1-12; en Johannes 20:1-10 ons ook vertel, gehoor het:
“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”
Jesus van Nasaret, wat gekruisig is en gesterf het, het opgestaan uit die dood, soos Hy baie keer vooraf geprofeteer het. Hy lewe!
Soos jy wat die Bybel ken, weet, het Hy vir 40 dae hierna Homself lewend vertoon aan meer as 500 verskillende mense, en aan sommige van hulle, soos aan Sy groep naby-dissipels, verskeie kere.
Dit het alles oor Jesus, wie Hy was, Sy dade en alles wat Hy oor Homself oor en oor gesê het, vir eens en vir altyd onteenseglik kom vasmaak en kom bevestig as die waarheid! Hierdie Jesus was nie net gewoon mens nie! Hy was nie eens net ʼn profeet nie! Nee, Hy was soveel meer as net dit!
Soveel so, dat Johannes in sy Gees-geïnspireerde weergawe van die Evangelie wat hy moes vertel oor Jesus en Sy lewe, na hierdie gebeure, die volgende geskryf het (en ek gaan dit opsommenderwys sommer in my eie woorde probeer oorsê:
Daar in Johannes 1:
Hierdie Jesus was dié Woord. Hy was God wat mens geword het en deur wie God self heeltyd met ons, daardie 33 jaar wat Hy ʼn mens was hier op aarde, met ons gepraat het.
“Het jy mooi gehoor?”, vra Johannes ons. Hierdie Jesus was werklik God wat ʼn doodgewone mens geword het!
Hoe onverstaanbaar wonderlik dit nou ook al vir jou klink!
Om hierdie onverstaanbaar wonderlike waarheid te probeer oorsê in gewoon menslike taal, gebruik Johannes ʼn woord in die Grieks wat ek dink ons in Afrikaans nie reg vertaal het nie.
Die Afrikaanse vertalings vertaal hierdie woord, “monogenes” (soos daar in Joh. 1:14; 1:18; en selfs in die bekende Joh. 3:16) met “Enigste”.
Terwyl hierdie woord in die Grieks probeer om te sê: “Totaal uniek!” “Soos niemand nog ooit voorheen nie!” “Die Enigste Een van Sy soort ooit!”
Hoe anders kan ʼn mens in gewone mensetaal hierdie wonder wat gebeur het in die mens, Jesus, beskryf!
Veral na Sy dood en veral na hierdie gebeure waarvan Markus 16 en die ander Evangelies ons vertel, dat Hy opgestaan het uit die dood en dat Hy lewe!
Ja, hierdie Jesus was en is werklik God, die totaal unieke God, die Seun, wat gewoon mens geword het om vir my en jou alles te kom doen wat Hy van voor die grondlegging van die wêreld bedoel was om te kom doen.
Met dit in gedagte kan jy nou Johannes 1:1 tot 18; Johannes 3:16 tot 18; en sommer die res van die Evangelie van Johannes gaan lees om presies te verstaan wat Johannes daar in hoofstuk 20,verse 30 en 31, geskryf het:
“Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”