In Johannes 3 kom Nikodemus laataand, toe die al donker was, na Jesus toe. Hy was ʼn geestelike leier van sy tyd, wat die Ou Testament en wat daarin staan, baie goed geken en verstaan het. Jy ken die verhaal.
Hoe hy vir Jesus sê: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”
Dan lees ons hoe Jesus vir hom terugantwoord. Ek gaan probeer om dit in my eie woorde oor te sê soos ek dit verstaan:
“Nikodemus, jy dink jy weet hoe hierdie dinge van God werk. Wat jy egter nie verstaan nie, is dat om werklik kind van die God te word waarvan jy praat en wat jy dink jy ken, moet ʼn mens nuut en weer gebore word.
Jy moet letterlik ʼn nuwe mens word.
Tot nou toe was jou gees dood as gevolg van sonde. Daarom kon jy nog nooit God se stem hoor en verstaan wat Hy werklik sê nie. Daarom het alles wat jy gesê, gedink, gevoel, en gekies het, net bevestig dat jy geestelik gesproke dood is.
Jy het nodig om weer gebore te word; om geheel en al verander en nuut te word, voordat jy vir God aanvaarbaar kan wees en deel kan word van Sy mense en Sy koninkryk hier op aarde.”
Natuurlik het Nikodemus nie ʼn snars verstaan wat Jesus hiermee bedoel het nie.
Daarom gaan Jesus voort en verduidelik dit aan hom, hoe dit kan gebeur. Hy verduidelik dat dit die werk is van God die Gees daar binne in ons, waar mense nie kan sien nie.
Om dit verder te verduidelik, gebruik Jesus die gebeure in Numeri 21:4 tot 9, om dit vir Nikodemus verstaanbaar te maak.
Hy verduidelik dat toe die volk daar in die woestyn weer in ongeloof ongeduldig geword en gesondig het, het God giftige slange onder hulle ingestuur. Die slange het die mense gepik en oral het mense gesterf. Die volk kom toe na Moses en bely: Ons het teen God gesondig met wat ons gesê het. Bid asseblief tot God dat Hy die slange van ons af wegneem.
Wanneer Moses dit dan doen, sê God vir hom: Maak ʼn beeld van ʼn slang uit koper en sit dit op ʼn paal waar almal dit kan sien. Elkeen wat gepik is, en daarna opkyk, sal lewe.
So, verduidelik Jesus dan verder aan Nikodemus, het God Jesus na hierdie wêreld gestuur om aan die kruis vir elkeen van julle te sterf en die straf vir julle sondes te dra.
Elkeen wat na Hom (wat aan die “hout” hang) en glo dat dit wat Hy gedoen het, voldoende is om jou te red en te verlos van die dood, word daar waar niemand kan sien nie, weer gebore deur die werk van die Heilige Gees.
Hy of sy word ʼn nuwe mens en ontvang God se genade en die ewige lewe.
Dan hoor ons die bekendste van alle Bybelverse uit Jesus se mond, daar in Johannes 3:16 tot 18:
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”
Kan ek afsluit deur vir jou baie persoonlik te vra: Was daar êrens ʼn dag in jou lewe wat jy baie doelbewus in geloof opgekyk het na die Een, Jesus die Christus, wat aan die kruis, in April 30 na Christus, ook daar vir jou gehang het, om so die volle straf vir al jou sondes te dra, sodat God jou genadig kan wees en jou sondes kan vergewe?
As jy dit nog nooit doelbewus gedoen het nie, waarom doen jy dit nie vandag nie?
Dan kan jy op grond van God se Woord weet dat jy nie verlore sal gaan nie, maar nuut gebore is deur Sy Gees en dat jy vir ewig sal lewe as God se kind.