Hoe goed ken ons nie daardie profetiese woord daar in Jesaja 7:14 wat waar geword het met die geboorte van Jesus nie!
“In elk geval, die Here sal self vir jou ’n teken gee: ’n jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”
Toe God die Seun, in Jesus gewoon mens geword het, was dit “Immanuel”, God wat by en tussen ons hier op aarde kom woon het.
“Immanu” in die Hebreeus, kan vertaal word met “by ons”. Die “el” aan die einde van die woord, kan vertaal word met “God”.
Vir sowat 33 jaar het ons hier op aarde, in Jesus van Nasaret, die onbegryplike wonder beleef van God self, as God die Seun, wat ʼn gewone mens geword het en hier tussen ons en by ons was!
Dit is die hart van die Goeie Nuus, die Evangelie, oor Jesus die Christus!
Dan hoor ons hoe hierdie Jesus, byvoorbeeld daar in Johannes 14 en 16, vir Sy volgelinge vertel van die dag wat Hy nie meer as mens tussen hulle en by hulle gaan wees nie.
Hoor hoe vertel Hy hiervan:
“Luister nou ’n bietjie hier: as iemand My vertrou, sal hy dieselfde dinge doen as wat Ek doen. Om die waarheid te sê, hy sal baie meer doen, want Ek gaan binnekort na my Vader toe. Hoe gaan julle dit regkry om meer te doen? Om met God te praat deur middel van gebed gaan julle baie help. Ek sal vir julle gee wat julle vra, maar dan moet julle dit vra in gehoorsame afhanklikheid van My. Wat julle so vra, sal Ek gee. Dan sal julle dieselfde wonderlike dinge as Ek doen. Die gevolg sal wees dat God so deur My toedoen vereer word.” (Joh. 14:12-14)
Dan verduidelik Hy hoe dit gaan gebeur. (Ek haal aan uit die Direkte Bybel-vertaling)
“Ek sal met die Vader praat. Hy sal vir julle ’n spesiale Helper stuur. Hierdie Helper ken net een pad en dit is die pad van die waarheid. Ek praat natuurlik van die Heilige Gees. Die Gees sal julle nooit alleen los nie, maar oral by julle wees. Julle sal gou die Gees in julle lewe herken, want Hy sal heeltemal deel word van julle. Hy sal nie net by julle wees nie, maar ook in julle.”
Dan verduidelik Jesus dat wanneer God die Gees self in ons kom woon, gaan Hy wat God die Seun is, self in en deur die Gees, in God se mense kom woon.
Hoor hoe staan dit daar in Johannes 14:18:
“Ek self sal ook na ’n rukkie na julle toe terugkom. Ek sal julle nie soos verlore weeskinders hulpeloos en alleen los nie. Maar wanneer Ek terugkom, sal Ek nie wees soos Ek nou is nie.”
In die volgende verse verduidelik Hy wat Hy in hierdie laaste sin bedoel, naamlik dat Hy nou in ʼn geestelike sin, in en by hulle gaan wees deur die inwoning van God die Gees, in elkeen van God se nuwe, wedergebore mense.
Elkeen van ons as God se gelowige kinders, wat in Jesus as Verlosser en Here glo, sal hierdie intieme teenwoordigheid en liefde van God self deur die inwoning van God die Gees in ons, kan beleef.
God die Gees gaan ons lei, ons leer, ons versterk, ons vertroos, ons gedurig herinner dat die Allerhoogste, Almagtige Skeppergod, wat nou self ons “Abba”, “Vader”, is en wie in die detail van ons lewe in en met ons besig is.
Ek weet nie van jou nie, maar in hierdie beloftes hoor ek weer die naam, Immanu-el, God self, in en met ons!