Meer oor die Persoon, God die Gees

Vanoggend lees ek weer daar in Johannes 14 wat Jesus oor die koms en uitstorting van die Heilige Gees in en op God se mense aan Sy dissipels gesê het. Kom ek wys vir jou wat ek hoor Hy sê.

Luister eers wat Hy oor Sy eie verhouding met die Vader sê.

Johannes 14:6,7 – “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

Dan vra Filippus: “Wys vir ons die Vader.”

Waarop Jesus dan antwoord: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.”

Met ander woorde, sê Jesus vir Sy dissipels, daar is hierdie “eenheid” tussen Hom as Seun van God, en God die Vader. Dit is presies hierdie selfde “eenheid” wat ons gaan beleef as God die Heilige Gees in elkeen van ons as gelowiges kom woon.

Daarom sê Hy daar in Johannes 14: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.”

Hoe gebeur dit dan dat Jesus self in ons as God se gelowige mense kom woon na Sy hemelvaart?

In Johannes 14:25 en 26 verduidelik Jesus dit: “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

In vers 28 vervolg Hy dan: “Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe.”

Om die spykers net nog verder in te kap, verduidelik Hy dit in Johannes 16 verder.

“Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.” (Joh. 16:7)

En: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” (Joh. 16:13-15)

Kan ek my finale slotsom hier voor jou op die tafel neersit?

Soveel gelowiges weet nie mooi hoe om oor die Heilige Gees te dink of oor Hom te praat nie. Tog is dit baie duidelik wat God self in Sy Woord oor die Heilige Gees sê. Luister maar self na die volgende verse en hoor hoe Hy openbaar dat Hy as ons God, die een en enigste ware God is, maar tog openbaar Hy Homself aan ons as God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.

Luister self na byvoorbeeld verse soos 2 Kor.13:13: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.”

Daarom sê Jesus self aan ons daar in Mat. 28:19 en 20: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Moet dus nooit weer twyfel oor die wonder dat God self in jou as gelowige woon in en deur die Persoon van die Heilige Gees nie.