Soos ek al soveel keer getuig en bely het, selfs met al my Doktorale mondelinge eksamens in Nuwe Testamentiese Grieks agter my naam, het ek in 1992, as NG predikant na ʼn bediening van sowat 12-13 jaar lank, die titel van Jesus as “Doper met die Gees” nooit werklik “raak gelees” en beslis nie verstaan nie!
Ja, al het ek reeds op 10 Oktober 1969 radikaal tot bekering gekom en Jesus as Verlosser en Here in geloof aangeneem, was dit eers in Januarie tot Maart 1992, in my drie-maande studie van al die verse in die Bybel wat direk verwys het na die Persoon en die werking van die Heilige Gees, wat ek werklik vir die eerste keer hierdie titel van Jesus “raak gelees” en begin verstaan het.
Dit terwyl dit op soveel plekke in die Nuwe Testament tog staan.
Kom ek haal net so een of twee hier aan.
Johannes die Doper het reeds hieroor gepraat daar in Matteus 3:11: “Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.” (Wat ook in Markus 1:8, Lukas 3:16, en Johannes 1:33 herhaal word.)
Dan hoor ons hoe Jesus vir Sy dissipels na Sy opstanding uit die dood die volgende leer:
“Verder sê Hy vir hulle: So staan daar geskrywe: Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.
Julle is getuies van hierdie dinge. En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is."
Ook daar in Handelinge 1 lees ons hieroor.
“Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.
Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”
Ek hoop jy hoor en lees dat Jesus self Sy mense gaan “doop met die Heilige Gees”!
Kom ek neem jou nou na daardie dag se gebeure toe wat hierdie beloftes vir die eerste keer waar geword het waar Jesus as die Doper met die Gees, self Sy mense wat in Hom geglo het, “gedoop” en “vervul het” met God die Gees.
Dit is belangrik dat jy hierdie ondersteiding raaksien: God die Heilige Gees, wat reeds in elke gelowige van hulle wedergeboorte af gewoon het, gaan nou ook “op” hulle kom om hulle so bonatuurlik toe te rus met krag en die gawes om Sy getuies te wees.
Want onthou, dit is immers elke gelowige se roeping om te getuig teenoor ander mense oor ’n onsigbare God en om boonop deur hierdie God gebruik te word om “dieselfde en nog groter dinge te kan doen as wat Jesus self gedoen het!
Daarom moet die mense van God in wie die Gees van God reeds woon, ook “gedoop word” met hierdie Gees, Sy krag en Sy gawes!
Dit is wat ons vir die eerste keer sien gebeur op daardie Pinksterdag, in Meimaand 30 na Christus, waarvan ons in Handelinge 2 van lees.
Hier is dit God self wat Sy mense doop met die Gees. En hierna sien ons dit weer gebeur, byvoorbeeld in Handelinge 4:31, maar ook in Handelinge 10:44 e.v.
Alhoewel God dit hier en daar self doen, soos hier in Handelinge 2, gebeur dit die meeste van die tyd wanneer nuwe bekeerlinge gedoop word in water en hulle dan hande opgelê word deur ander gelowiges en daar gebid word dat Jesus as die Doper met die Gees self hierdie mense sal “doop” met Sy Gees en hulle so bonatuurlik sal toerus met die gawes en die krag van die Gees!
Gaan lees jy maar self dit in gedeeltes soos Handelinge 8:4-25; Hand. 9:15-22; Hand. 19:1-10.
Sê dan net weer vir Jesus dankie vir die wonder van God die Gees wat in jou woon en werk. Ek vertrou egter ook die Here dat jy kan getuig van hoe en wanneer God die Gees ook “op” jou gekom het om jou bonatuurlik toe te rus vir jou roeping en taak!