Hoe lyk dit vandag as gelowiges werklik God se Woord begin glo?

Die prediker, R.W Shambach, vertel die volgende:

Terwyl hy ʼn gemeente in die vroeë 1950’s bedien het, het hulle ʼn sendeling in Indië maandeliks onderhou vir meer as 30 jaar. Gedurende hierdie tyd het die sendeling vir pastoor Shambach vertel dat hy in hierdie 30 jaar van sendingwerk in Indië, nie ʼn enkele Mohammedaan tot bekering sien kom het nie.

Dit het pastoor Shambach laat wonder of ʼn finansiële belegging in so iemand se bediening werklik ʼn goeie investering in die Koninkryk van God was! Daarom besluit hy om self Indië toe te gaan om te ondervind wat gebeur werklik daar.

Shambach vertel hoe hy in 1956, tydens sy eerste besoek aan Indië, meer as 50 000 mense daar bedien het. Hy het al die markte daar besoek, en hom verstom aan die duisende bedelaars, blindes en verlamde mense rondom hom. Soveel siekes en armes het hy nog nooit gesien nie, en hy het vir die eerste keer werklik verstaan waarom mense Indië as een van die armste nasies in die wêreld beskryf het waar miljoene mense sonder woonplek en sonder ʼn sent geld op straat sit!

Shambach vertel verder van hoe hulle selfs duisende dollars belê het om ʼn struktuur te bou wat die mense kon beskerm teen die warm son terwyl hulle sit en luister na die prediking van die Evangelie.

Met die opening van hierdie struktuur, het hy self vir twee ure aanmekaar daar gepreek terwyl ʼn tolk alles wat hy gepreek het, in ʼn verdere twee ure vir die skare in hulle taal getolk het.

Uiteindelik was die “preek” met die tolk se bydrae ʼn totaal dus van 4 ure lank!

Tot sy totale verbasing egter, toe hy ʼn uitnodiging aan die skare van 50 000 mense gee om Jesus aan te neem as hulle Verlosser, was daar nie een persoon wat na vore gekom het om dit te doen nie!

Vir die eerste keer het hy verstaan wat daardie sendeling hom vertel het.

Daarom bid hy toe en sê: O Here, nou verstaan ek waarom U ons toegerus het met U Gees en met die gawes van die Gees, en waarom dit nie genoeg is net om die Woord te predik nie. U het ons geroep om die Evangelieboodskap ook te demonstreer aan die mense!

Alhoewel die skare angstig gewag het op die “amen” van die prediker, het Shambach vir hulle gesê: “Nee, ek is nog nie klaar nie. My God het in Sy Woord belowe dat Hy self Sy Woord sal bevestig deur wonders en tekens. Nou gaan ek doen wat God ons opdrag gegee het om ook te doen!”

Shambach nooi toe 3 spesifieke mense na die verhoog toe uit. Almal was bedelaars. Een was blind, die ander was doof-stom, en die laaste een was ʼn vrou wat nog nooit regop kon loop nie, maar eerder hande-en-voete, soos ʼn dier, geloop het.

50 000 Mense se oë het op alles wat daar op die verhoog gebeur, gebrand!

Shambach lê toe hande op die blinde en sê: “In die Naam van Jesus beveel ek hierdie blinde oë om te sien!”

Onmiddellik het die Here haar oë laat sien en sy het opgestaan, die skare ingehardloop terwyl sy in haar eie taal uitroep: “Ek kan sien! Ek kan sien!”

Shambach stap toe na die doof-stom man, steek sy vingers in sy ore en sit sy duim op sy tong en sê: “In die Naam van Jesus beveel ek nou hierdie doof-stom gees om uit te kom en pad te gee!”

Binne ʼn paar minute het hierdie man in Engels begin praat. Hy het nie sy eie taal geken nie, maar die Here het sy ore geopen en sy tong losgemaak om in Engels te kon praat.

Dit was tyd om vir die kruppel vrou te bid. Shambach sê toe: “Nou gaan ek vir hierdie vrou hande oplê in die naam van Mohammed en ek gaan hom dieselfde tyd gee as vir Jesus om te wys wat hy kan doen!”

Die tolk het weier egter om dit te vertaal.

Shambach sê toe vir hom: “Jy sal presies sê wat ek vir jou sê om te doen. Ek is die man van God en jy is my tolk!”

Shambach lê toe die vrou hande op in die naam van Mohammed en sê: “In die naam van Mohammed, staan regop en begin normaal loop!”

Nie een persoon in die skare het enigsins gedink dat hierdie vrou sou regop kom en begin normaal loop nie, want hulle het geweet dat Mohammed dood was!

Daarom gaan Shambach voort: “Sien julle, dit is die verskil tussen die god wat julle dien en die God wat ek dien! Ek het nie gekom om julle god te verneder nie. Ek het wel gekom om my God hier voor julle te eer! Julle gaan baie keer na Mohammed se graf, maar my God en Here se graf is leeg, want Hy het opgestaan en Hy lewe! Vandag gaan ek vir julle wys dat Jesus lewe en dat Hy vandag nog dieselfde is!”

Met hierdie woorde lê Shambach die vrou hande op in die Naam van Jesus, die Naam bo elke ander naam, wat gesterf het aan die kruis vir die hele wêreld se sondes; ook vir die mense van Indië!

Voor die oë van hierdie skare van 50 000, staan hierdie vrou skielik regop en kan sy normaal loop vir die eerste keer in haar hele lewe van 58 jaar!

Wil jy weet wat volgende gebeur het?

Skielik het mense in die skare soos een man vorentoe begin hardloop. Arme Shambach het agter sy tolk gaan wegkruip want hy het gedink sy laaste dag op aarde het aangebreek!

Die mense het begin om aanmekaar dieselfde woorde oor en oor te skreeu. Shambach vra toe vir die tolk: “Wat sê hulle?”

Die tolk antwoord toe: “Hulle skreeu: Jesus lewe! Jesus is die Christus! Jesus is God! En hulle wil dat Hy hulle moet kom red en verlos!”

Wanneer ons toelaat dat God self die Goeie Nuus van die Evangelie demonstreer aan mense deur Sy krag en Sy gawes, gaan ons ook sien waarvan ons daar in Handelinge 3 en Handelinge 8 van lees.

Hierdie selfde Jesus is vandag nog steeds dieselfde en Hy sal doen wat Hy belowe het! Ook deur gewone mense soos ek en jy!