Ek weet nie van jou nie, maar ek begeer baie keer dat ek so graag een van Jesus se dissipels van destyds kon wees wat vir ten minste 3 jaar, elke dag, in Sy teenwoordigheid kon wees. Dink net, om saam met Hom te kon wandel op die stofstrate van Israel, om saam met Hom te kon eet en drink, en om enige tyd van die dag of nag met Hom te kon gesels!
Nou die dag lees ek weer in hierdie verband, Johannes 13 en 14.
Jy ken dit!
Soos, hoe Jesus Sy dissipels se voete gewas het en saam met hulle die brood gebreek en geëet het.
Dan lees ons in Johannes 13:23 die volgende: “Een van sy dissipels vir wie Jesus liefgehad het, het aan die bors van Jesus aangelê met die ete.”
Sien jy die prentjie hiervan in jou gees?
Wat ʼn voorreg om die vrymoedigheid en die voorreg te hê om te weet jy het ʼn plekkie daar teen die bors van Jesus! Omdat Hy jou liefhet!
Dan begin Jesus met hulle praat oor wat Sy mense anders maak as die res van die ongelowige wêreld rondom hulle. Jy ken die twee verse waarin Hy dit vir hulle gesê het. Ja, Johannes 13:34 en 35.
“Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Dan begin Hy met hulle gesels oor die tyd na Sy kruisiging, opstanding, en hemelvaart. Wanneer Hy, as God die Seun, nie meer as ʼn gewone mens by hulle gaan wees nie.
Hoor net hoe vertel Hy hulle van hierdie nuwe seisoen wat voorlê. Maar nie net vir hulle nie as Sy dissipels wat vir hierdie drie jaar, van 28 tot 30 na Christus, fisies by Hom kon wees nie. Nee, dit gaan nou die ervaring wees van elkeen van Sy volgelinge ook hierna.
Hoor wat sê Hy hieroor.
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Hoor jy wat ek hoor Jesus vir ons elkeen sê wat Hom liefhet?
Ja, dat ons gaan ontdek dat ons, soos Johannes, ook ʼn plek het teen Sy bors! Ons kan, net soos Sy dissipels van ouds, elke dag, elke oomblik van die dag, Sy teenwoordigheid, Sy liefde, Sy daar-wees, beleef en ervaar!
Wat is die geheim? Hoe is dit moontlik?
Net soos die vroeg-Christelike gemeentes en gelowiges waarvan die boek, Handelinge, ons vertel, gaan ons ontdek dat die geheim die teenwoordigheid van God die Gees, die Heilige Gees, in en by ons is!
Volgende keer vertel ek julle uit Johannes 14 verder hiervan.