Jesus in ons (Deel 6)

Hoe manjifiek is Jesus, die Koning! Ja, die Jesus wat in jou woon deur Sy Gees.

Dit is waarom ek en jy, met die Bybel oop op ons skoot, tyd maak om sommer net na Hom te kyk en te luister wat God se Gees deur die Woord aan ons oor Hom openbaar.

Soos deur Johannes 2 se gebeure.

As jy wonder wie Jesus werklik is, kyk na hierdie gebeure en laat God se Gees toe om jou daardeur te bedien.

Vriende, ons kan nie die ware God leer ken anders as deur Jesus nie.

Daar is geen ander god behalwe die God wat ons in Jesus ontdek nie.

Jesus is immers God in ʼn menselyf, hier naby ons, sodat mense Hom kon sien en Hom kon beleef.

Onthou dit tog elke keer as jy oor Jesus iets lees in die Bybel.

Maar, kom ons kom terug na dit wat ons hier in Johannes 2 oor Jesus lees.

Daar sien ons hoe Jesus by ʼn Joodse huweliksfees van sewe dae, daar in Kana, instap as een van die baie gaste.

Wat die gaste nie geweet het nie, is dat die bruidegom en sy familie nagelaat het om voorsiening te maak vir die toestroming van onverwagte gaste wat sou opdaag by hierdie troue. Daarom het hulle tot hulle skaamte en skande hier in die middel van die troue skielik ontdek dat daar nie meer genoeg wyn vir al die gaste is nie.

Juis in hierdie verleentheid stap Jesus in en gebruik dit as ʼn geleentheid om mense iets te laat beleef vir wat gebeur as die Koninkryk van die hemel skielik, onverwags, deurbreek in die nood en stukkendheid hier op aarde.

Teen alle fisika-wette in, verander Hy water, H2O, in ʼn oomblik in die beste wyn.

Hulle sê vir my dat rooiwyn se chemiese formule is C14H12O3. As dit nog boonop alkohol sou bevat wat die resultaat van fermentasie was, dan het die formule iets soos (CH3CH2OH)3 ingesluit.

Toemaar, ek weet, heelwaarskynlik is my formules nie heeltemal reg nie! Want die ouens wat weet, vertel my dat dit eintlik ʼn ongelooflik ingewikkelde proses is om dit presies as ʼn chemiese formule te formuleer!

Maar ek wil hê jy moet die onbeskryflik wonderlike raaksien in hierdie wonderwerk, sodat jy weer met nuwe oë na die Jesus van die Bybel kan kyk!
Want hierdie Jesus het met hierdie briljante, bonatuurlik wonderlike wonderwerk ʼn persoon se openbare skande en skade omgedraai en hom in die held van die oomblik verander, waaroor die gaste wat daar teenwoordig was nog vir weke en maande sou gesels!

Dit is ons Jesus! Dit is deel van wat Hy doen. Hy vat ons skaamte en skande en draai dit om, uit totale genade, tot ons voordeel!

In Johannes 4 doen Hy dit weer. Hierdie keer, teen alle sosiale en godsdienstige reëls van Sy tyd in, begin gesels Hy met ʼn Samaritaanse vrou, wat juis wanneer almal eerder tuis bly as gevolg van die bloedige hitte, twaalfuur in die middag, daar by die put was om water te kom haal.

Daar bedien Hy waarheid aan haar; dat Hy presies weet wie en wat sy is.

Tog veroordeel Hy haar nie ook nie soos al die ander mense van die dorp, maar sê en wys vir haar ʼn gesig waarin sy God se gesig en Sy genade proe.

Dit verander haar lewe.

Dit is wie Jesus is wat in jou en my woon!