Jesus in ons (Deel 7)

Vandag wil ek jou net weer herinner daaraan dat Jesus wat in ons woon deur Sy Gees, die Koning is.

As ons in die woorde van die Ons Vader-gebed bid, “Laat U koninkryk kom”, dan bid ons dat ons en ander mense om ons, Jesus as die Koning sal herken.

Miskien moet ons net weer vir mekaar iets hieroor sê.

Ek weet nie of jy weet nie, maar daar is ten minste drie sienings oor wat dit beteken dat die Koninkryk van God moet kom.

Die een groep glo dit beteken dat ons wag vir wat hulle die “Wegraping” noem. Ja, want hulle glo dat die Koninkryk van God eers in die hemel vir ons wag. Daarom wag hulle met groot angstigheid en opgewondenheid vir die dag wat God Sy mense gaan kom haal en hulle gaan wegneem van al die ellende en seer en stukkendheid op hierdie planeet Aarde, en dan vat Hy ons na ons hemelse woning! Al wie hier op aarde gaan agterbly, is diegene wat Hom nie ken nie. Dit is dan ook hulle wat al die erge gebeure, die verdrukking en lyding waarvan ons in Openbaring van lees, aan hulle eie lyf gaan voel en beleef.

Die ander siening is dat ons die Koninkryk van God gaan beleef en sien wanneer God in Sy wonderkrag rondom ons duiwels uit mense laat dryf, siekes gaan gesond maak en dooies gaan laat opstaan. Dit is hoe dit prakties lyk as die Koninkryk van God kom vir hierdie groep gelowiges!

Dan is daar die derde siening oor wat dit werklik beteken as God se Koninkryk hier op aarde kom. Vir hierdie groep beteken dit dat armoede en alle vorm van menslike lyding op elke moontlike wyse verlig of selfs weggeneem sal word. Ja, dat alle sosiale onreg met hand en tand beveg sal word en omgedraai sal word.

Ek weet nie in watter van hierdie kampe jy jou dalk tuis gemaak het nie. En as jy het, kan jy jou bitter moeilik met die ander twee sienings vereenselwig.

Wel, ek wil waag om ʼn ander definisie van Koninkryk van God op die tafel te sit.

In hierdie definisie hou ek doelbewus aan Jesus as die Christus vas, omdat ek oortuig is dat die Koninkryk van God onlosmaaklik vasgemaak is aan die Persoon en die werk van Jesus Christus.

Daarom glo ek dat hierdie definisie van wat die Koninkryk van God werklik is, baie meer gemaklik pas in elke Bybelgedeelte waar ons hierdie term, Koninkryk van God, lees.

Nou ja, met dit gesê, hier is my definisie:

Die Koninkryk van God is die manifestasie, die waar-word, die deurbreek, die sigbaar word, die ervaarbaar word, van God wat totaal in beheer is en regeer.

Kom ek sê dit net weer: Die Koninkryk van God gebeur daar waar ons iets beleef en sien gebeur van ons God (wat ons in Jesus Christus leer ken en leer vertrou het) wat totaal in beheer is, wat in die detail van alles aan die werk is, en wat regeer.

Dit is waarom die vroeg-Christelike kerk en gemeentes, oor en oor geskryf en bely het dat Jesus Christus die beliggaming vir hulle was van hoe dit lyk as die Koninkryk van God kom.

Die koninkryk van God en die Koning wat hierdie Koninkryk beliggaam, is onlosmaaklik een. Ons kan nie die een van die ander losmaak nie.

As ons Jesus sien, Hom sien optree, Hom hoor praat, sien en hoor ons die Koninkryk van God en wat dit presies behels.

Gaan raak ʼn bietjie stil en dink ʼn bietjie hieroor na.