Jesus in ons (Deel 8)


Ons is besig om saam na te dink oor Jesus in ons en dat Hy die beliggaming is van hoe Koninkryk van God in werklikheid lyk en is.

Ek wil graag hier met jou gesels oor hoe onlosmaaklik ineengestrengel die Koninkryk van God en die Bybelse Kerk of Ekklesia met mekaar is.

Ja, ek weet daar is mense wat sê dat die Bybelse Ekklesia nie vir Jesus belangrik was nie. Het Hy dan nie meer as ʼn honderd keer oor die Koninkryk van God en net twee keer direk oor die Ekklesia gepraat nie!

Wie egter so redeneer, besef nie dat die mens wat so redeneer, ʼn reuse denkflater maak nie!

Kom ek sê hoekom ek so sê.

As jy begin dink dat die aantal kere wat Jesus direk na iets verwys asof dit sou aandui hoe belangrik daardie ding sou wees, maak jy ʼn groot fout.

Kom ek illustreer dit aan die hand van die feit dat Jesus nooit die woord of begrip “God Drie-enig” gebruik het nie.

Ja, Hy het daar in Mat. 28 gepraat van “… in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”, maar nooit direk verwys dat God ʼn Drie-enige God is nie. Hy het nooit direk gesê dat die God van die Bybel Homself aan ons bekendstel as God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees nie. Ja, dat Hy inderwaarheid drie Persone is wat die Een God is.

Tog is die feit dat die God van die Bybel Vader, Seun en Gees is, die hele Bybel en ook al vier Evangelies in die Nuwe Testament vol.

Ja, feitelik op elke bladsy van die Evangelies lees ons dat die God van die Bybel inderdaad God is wat Homself aan ons geopenbaar het as God die Vader, en as God die Seun, en as God die Heilige Gees. Ons moet net met die regte bril die Bybel lees.

Om dit vir jou te illustreer, kom ons lees maar net Johannes 14, 15, 16 en 17.

In hierdie hoofstukke van die Johannes-Evangelie is God soms is God as Vader, of as die Seun, en of as God die Gees, in volkleur voor ons oë besig of word daar direk so na Hom verwys.

Soos toe Jesus gedoop is die dag daar in die Jordaanrivier, onthou jy!

Jesus, die Seun, het uit die water opgekom, en dan sien ons God die Gees kom uit die hemel en kom sit op Hom. En dan hoor ons die stem van die Vader wat sê: Dit is My Geliefde, Seun!

Volgende keer gesels ons dan verder oor hoe onlosmaaklik die Ekklesia of ware Kerk van Jesus en die Koning van die Koninkryk met mekaar ineengeweef is.