Kom sit hier by my en hoor wat Jesus vir Sy dissipels daar in Johannes 13 en veral in hoofstuk 14 gesê het.
Hy is besig om vir hulle te vertel van die volgende seisoen wat voorlê. Van hoe dit gaan wees na Sy kruisiging, na Sy opstanding, en na Sy hemelvaart.
Hy as God die Seun, gaan nie meer fisies, as ʼn gewone mens, by hulle wees nie.
Daarom begin Hy in Johannes 14 dit so vir hulle te verduidelik:
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Baie Christengelowiges dink dat Jesus hier praat oor die hiernamaals en oor hoe dit gaan wees na ons dood en eendag in die hemel. Ek dink nie dit is in die eerste plek waaroor Jesus hier praat nie.
Uit die konteks en wat Jesus verder in hierdie hoofstuk sê, veral oor die koms van God die Gees, leer Hy hulle dat soos wat Hy as God die Seun ʼn plek teen die bors van die Vader en in die hart van die Vader het, elke gelowige ook na die koms van die Heilige Gees in en op God se mense, hulle ook gaan ontdek en beleef dat God self by hulle en in hulle is. Die teenwoordigheid van die Vader en die Seun, gaan deur die inwoning van God die Gees in hulle, vir hulle so ʼn werklikheid wees. Elke dag, vier-en-twintig uur van elke dag, en elke minuut van die dag!
As ek en jy alles wat Jesus dan verder vir ons oor die Heilige Gees en Sy werk vir ons in Johannes 14 en 16, asook in al die ander 250 verse in die Nuwe Testament hieroor , begin ons iets verstaan waarom die koms van die Heilige Gees en Sy in en by ons wees as God se mense, bedoel is as die krag en realiteit wat God se mense anders gaan maak as almal rondom hulle.
Volgende keer gesels ek verder oor hierdie realiteit van hoe om God as Vader, Seun, en Gees, elke dag en elke oomblik van die dag as ʼn werklikheid en as werklik teenwoordig in jou lewe te beleef.